PREEKOPSOMMING – 1 September 2024

  • Tema: Die blindekolle van Vryheid
  • Teks: Jakobus 1:19-27
  • Teksvers: Jakobus 1:22 [1983] – Julle moet doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

Ek en jy is ons eie grootste vyande, want ons jok vir onsself! Daar word die afgelope tyd nogal baie gepraat, geskryf en navorsing gedoen oor SELFBEDROG! Selfbedrog vreet jou Vryheid op! Dis iets wat jou heeltyd terughou en vashou, sodat jy nie die lewe in VOLHEID kan lewe nie, maar jy weet nie mooi wat jou terughou nie. Dis soos ‘n onsigbare tou/hand wat jou vashou. Ons mense het ‘n merkwaardige vermoë om onsself te bedrieg. Ons sê vir onsself ek eet nie te veel nie! Maar intussen eet ons aanmekaar. Ek drink nie baie of gereeld nie, intussen drink ons bottels vol. Dis nie so erg nie, ek spandeer nie soveel tyd by my werk of op my selfoon nie, totdat jy dit gaan bereken, dan sien jy dis nogal heelwat tyd. ALLE MENSE doen dit! LEES Jeremia 17:9. Wie sal beter weet as die Here wat ons harte gemaak het en BINNE ONS kan sien.
WAT IS SELFBEDROG? Dit beteken jy ontken die waarheid oor jouself en besef dit nie. Jy maak besluite en keuse in die lewe op grond van goed wat jy glo, maar wat nie waar is nie. Jy glo goed oor jouself wat nie waar is nie. Selfbedrog is soos wanneer jy van die verkeerde kant van ‘n Teleskoop af kyk! In plaas daarvan dat die teleskoop iets groter moet maak, maak hy dit kleiner, in plaas van nader bring, vat hy dit verder. Stel jou voor ‘n jagter monteer sy geweer se teleskoop agterstevoor om – dit sal nooit gebeur nie! As jy doelbewus staat maak op wat jy deur die verkeerde kant van die teleskoop kan sien, bedrieg jy jouself. TD Jakes sê oor selfbedrog:Your own opinion becomes your God. Gewoonlik as jy jouself bedrieg, glo jy ten alle koste jy is reg. Jy luister na NIEMAND anders nie, want jy glo wat jy dink, doen en sien is REG al is dit hoe verkeerd/onwaar! Jy kyk agtervoor deur die teleskoop, maar jy glo wat jy sien is die regte beeld.
WAT VEROORSAAK SELF-BEDROG? In jou grootword-jare in jou ouerhuis begin jy op grond van jou ervarings afleidings maak oor die lewe en jouself: Ek is mooi, ek is lelik, ek is vet, dom, mense hou nie van my nie, die lewe is onregverdig en ‘n menigte ander afleidings. Sommiges is reg en ander verkeerd en hierdie afleidings word die teleskoop waardeur jy na die lewe kyk. Dis meestal pynlike ervarings. Dalk was jou pa om watter rede ookal afwesig in jou lewe, en jy het die afleiding gemaak: My pa hou nie van jou nie, of jy is te sleg of lelik en die afleiding wat jy gemaak het, laat jou dink jy moet goeie goed doen sodat mense van jou kan hou. Of iets het gebeur en jy dink jy mag nie foute maak nie. En so raak jy bv. ‘n perfektionis of werkolis om mense sover te kry om van jou te hou of goed van jou te dink of jou raak te sien.
Maar die afleidings beïnvloed jou nog meer. As jy volwasse is en iemand wys jou op ‘n fout, is jy onmiddellik briesend kwaad, want jy dink nie jy is verkeerd nie en jy kan nie aanvaar dat jy verkeerd is nie. Jy is dalk as kind gespot deur jou maats oor jou voorkoms of iets anders daarom begin jy eet as jy emosioneel seergemaak voel om jouself te troos. As jy groot is, sukkel jy heeltyd met jou gewig, want jy eet nie omdat jy honger is nie, jy eet om beter te voel binne jouself. Daar is 1000e
voorbeelde wat ek kan noem. Jy sien dit ook in American Idols, waar baie ‘n oudisie kom doen, maar hulle kan glad nie sing nie. Die ergste is hulle families ondersteun hulle in hulle selfbedrog.
GEESTELIKE SELFBEDROG is selfbedrog se dieper kant. Ons bedrieg onsself ook geestelik. Ons probeer ook by God ‘n dubbele lewe lei. Ons sê ons begeer intimiteit met God, maar maak nooit tyd daarvoor. Ons sê ons is vrygewig, maar deel nooit uit nie. Ons sê ander mense is belangrik, maar ons is selfsugtig. LEES Jakobus 1:22. Ons dink God is daar om ons te “please” en ons kan besluit watter van die goed wat Hy van ons vra, gaan ons doen en watter nie. Joe Vasik sê jy kyk van die verkeerde kant van die teleskoop af. Jy dink die wêreld draai om jou, terwyl die wêreld eintlik om God draai. Self-bedrog is om die Woord te lees en nie te doen wat dit sê nie. En ons almal ly op een of ander manier aan selfbedrog.
WAT IS DIE OPLOSSING VIR SELF-BEDROG? LEES Jakobus 1:21. Dit sê 2 goed (Akroniem R O = Remediërende Onderwys). RO werk met kinders wat struikelblokke in hulle lewens het wat hulle verhoed om hulle volle potensiaal te bereik. Ons almal het RO nodig om ons volle potensiaal in God te bereik, om in VRYHEID te lewe, soos God bedoel het.
1. RAAK ONTSLAE van die vuilheid en boosheid wat welig in julle groei. Die Griekse woord vir “raak ontslae” kom van die antieke Olimpiese Spele waar atlete kaal deelgeneem het, omdat hulle besef het hulle klere belemmer hulle vermoë om hulle beste te doen. Jakobus sê: Raak ontslae van die goed wat veroorsaak dat jy vir jouself lieg. Hy sê dis vuilheid en boosheid wat in julle tier/groei. Die vuilheid en boosheid is slegte, waardelose goed (beteken niks, omdat dit leuens is!) wat jy binne in jou dra uit ervarings wat jy gehad het van jou kinderjare af. En hierdie ervaring het veroorsaak dat jy vir jouself sekere goed begin sê het en op sekere manier begin dink het oor die lewe en hierdie goed beïnvloed jou manier van lewe, jou verhoudings, jou werk, jou huwelik en letterlik alles in jou lewe. Die ergste is ONS SIEN DIT NIE RAAK NIE. Jakobus sê daar is net te veel daarvan binne in jou hart – dit groei welig! Hierdie bagasie maak jou hart doodgewoon so vol dat daar net nie genoeg plek is vir God en vir sy Woord en wil in jou hart nie. Daarom volg jy jou eie kop en luister nie vir God nie. EN dit steel jou Vryheid. Om daarvan ontslae te raak, moet jy dit kan raaksien – jy het die Woord van God nodig.
2. ONTVANG DIE WOORD wat God in julle geplant het. Daar is net EEN in die wêreld wat jou beter ken as jyself. LEES Psalm 139:4, Lukas 16:15. Die woord “ken” is die Hebreeuse woord “Yada”. Dis dieselfde woord wat gebruik vir seks tussen ‘n man en vrou. As die Here sê Hy ken jou, beteken dit Hy is IN jou, Hy kyk en ken jou van binne af, weet meer van jou as jyself. As jy in jouself wil raaksien wat jy nie weet van jouself nie of wegsteek of ontken, omdat dit te seer is om vir jouself en ander te erken, moet jy deur die Here se oë na jouself kyk. Die Here wys dit vir jou deur sy Woord/die Bybel. LEES Jakobus 1:25, Johannes 8:31b-32, Psalm 1:2-3. LEES Hebreërs 4:12. Al wat jy moet doen, is om te ontvang wat die Here vir jou wys. LEES Jakobus 1:21. Die woord “ontvang” is in Grieks “a welcome reception”, ‘n passiewe ontvangs: Ontvang die Woord van God met ope arms. Dis soos wanneer jy by goeie familie aankom! Dis die deur waardeur ons God se genade ontvang.
Ons moet dit in nederigheid ontvang. Nederigheid is die teenoorgestelde van woede. Moenie hardgebak wees oor jou eie foute nie. Moenie dink jy weet beter as God nie. In my eie lewe het ek beleef, wanneer ek my lewe voller maak met die Woord van God, meer gereeld lees en oordink, daarna luister by elke geleentheid, word my skerp kante skielik sag en rond en rond en dan begin ek luister na die mense rondom my, sonder om te verdedig, sonder om kwaad te word. LEES Jakobus 1:19. As iemand vir jou iets probeer sê oor jouself, moenie daarteen skop nie. Maak jou hart oop en luister! Dis hoe die Here met jou praat! So verdwyn jou self-bedrog voor jou oë en lei jy ‘n skoner en ligter en vryer lewe. En dis die lewe waarvoor God jou geskep het. Moenie vashaak in die blindekolle van self-bedrog nie. LEES Psalm 51:1-3 in The Message Translation.
As jy God en sy Woord in jou lewe toelaat en inlaat, maak Hy jou nuut. Lewe in oorvloed is sonder brieke omdat niks jou terughou nie, nie sonde of mense of siekrte of wat ookal nie. Jy is vry soos ‘n arend hoog hoog in die lug. En dis so lekker om NUUT te word en nuut te kan lewe. Dis VRYHEID in oortreffende trap.

Scroll to top