PREEKOPSOMMING – 29 September 2024

  • Tema: Ag Here, ek wil so graag meer bid!
  • Teks:1 Tessalonisense 5:16-22
  • Teksvers: 1 Tessalonisense 5:17 – Bid gedurig.

Toe my oudste nog ‘n klein seuntjie was, het hy altyd as ek in die “garage” of huis of tuin besig was heeltyd saam met my geloop en HEELTYD(!) gepraat. Hy het meestal bietjie nonsense gepraat, maar hy het nie gedink oor wat hy sê nie, hy wou net met sy pappa praat, en alles het net so uit sy binneste gekom, eenvoudig, ongeskunsteld, ongefilter. Dit het net uit hom gevloei om sy begeerte om met my kontak te maak te wys.
Sien jouself so saam met God! Hy is mal daaroor!! As jy hierdie verstaan, verstaan jy gebed. EK GLO gebed is eenvoudig. Dis nie iets wat jy DOEN nie, dis IEMAND saam met wie jy tyd spandeer in totale eerlikheid. Die Hele BYBEL sê: GEBED behoort so eenvoudig te wees!! LEES Matteus 18:3. Dis skokkend dat Jesus gesê het: Jy sal NIE in die koninkryk ingaan as jy nie soos ‘n kind word nie! Ons het allerhande idees oor hoe mens in die hemel kom! Maar God het net een – word soos ‘n kind! DALK sê die Here vandag vir jou: Word weer soos ‘n kind by My.
DIE PROBLEEM MET GEBED is dat ons dit hopeloos te ingewikkeld maak! Ons probeer geestelik wees, om gebed reg te doen! Ons dink jou gebed moet “uit die boeke” wees, dit moet “stunning” wees om verhoor te word. Ons wil soos grootmense bid! Dis hoekom daar so baie vrae oor gebed is. Gebed klink te maklik as Jesus vir ons sê: Praat net! Dis asof ons dink dis te eenvoudig! MAAR dis wat Jesus sê (in bykans elke teks oor gebed!): Sê net wat op jou hart is, soos ‘n kind! LEES Filippense 4:6. Lees Lukas 18:13. Tel die woorde van die Tollenaar se gebed: 6 WOORDE uit sy hart! En Jesus sê: Dis wat Ek soek! LEES Matteus 6:7. Ekself is soms skaam om voor ander dominees en predikers te bid as ek hulle mooi en baie woorde hoor en dit klink so goed! Maar dis nie vir God belangrik nie – jou HART IS! LEES Filippense 4:6 in verskillende vertalings. Dit sê basies: Maak net alles in jou hart aan God bekend, soos ‘n kind! LEES 1 Tessalonisense 5:17. Die Griekse woord gedurig beteken: sonder onderbreking. LEES Kolossense 4:2. Die Griekse woord “volhard” is “to be steadfastly attentive unto”. Lees ook Efesiërs 6:18. Die King James Bybel sê: Bid met alle gebed op alle tye! Dit beteken moenie ophou bid nie. LEES Filippense 4:6 en Matteus 11:28. Die Here sê: Kom as jy nie kan nie! Kom as jy nie weet hoe nie! Moenie probeer om reg te bid nie! Sê net vir God waar jy NOU is en wat in jou gedagtes is, wat op jou hart is. Dis mos wat kindertjies doen! Dallas Willard noem dit a conversational relationship with my Father. Paul Miller sê: Prayer is simply you – as child of a good Father – making conversation with God a rhythm of you life. Dis wat dit beteken om gedurig te bid. MAAK dit net ‘n gewoonte in jou hart om alles in jou hart met God te deel! ….. soos jy lewe! Wees net ‘n kind by God! As meer van ons maar kan glo en as ons MEER kan glo dat God net so oor ons voel en dink soos ons oor ons kindertjies voel en dink, sal baie meer van ons MEER BID! Ek dink dis vir God so lekker as ons ons vewonder hoe Hy elke dag werk en waar Hy besig is en wat Hy doen rondom ons! As ons Hom bewonder soos ons ons ma’s en pa’s bewonder het toe ons nog baie klein was, as ons heeldag probeer om by Hom te wees en net sê wat in ons koppe aangaan – heeldag net so saam met Hom leef!
Ek dink ons maak gebed hopeloos te ingewikkeld met al ons vrae en vooropgestelde idees. Ons wonder ons morsdood wat is gebed nou eintlik! Wat moet ek sê? Wanneer moet ek bid? Hoekom antwoord God nie my gebede nie? Bid ek reg? Hoeveel kere en waar moet ek bid? STOP ‘IT! Just do it!! William Barclay het gesê: As jy meer dink aan WAT jy moet bid en HOE jy moet bid as aan die EEN vir jy bid en saam met wie jy bid, Sterf jou gebed op jou lippe.
Ek wil jou vandag vertel van ‘n wonderlike, eenvoudige manier om so eenvoudig te bid en gedurig te kan bid! Dit het my die meeste laat groei in my verhouding met God! Die Here my dit geleer deur Brother Lawrence. Hy is in 1611 gebore as Nicolas Herman. Sy ouers was arm boere wat dit nie kom bekostig om hom skool toe te stuur nie. Daarom het Nicolas later by die weermag aangesluit, sodat hy darem elke dag kos kon hê om te eet en ‘n klein salaris te verdien. Gedurende die 18 jaar in die weermag, het hy geestelik ontwaak en het die Here hom toegerus met bo-natuurlike geestelike insig oor hoe om die teenwoordigheid van God te beleef elke dag. ‘n Rukkie later het Herman uit die Weermag bedank en by ‘n verlate klooster in Frankryk (die kaalvoet-klooster) gaan aansluit waar hy vir 30 jaar lank die kok was. Hier het hy die naam Brother Lawrence gekry. Hy is in 1619 oorlede toe hy 80 jaar oud was.
Broer Lawrence het ‘n baie eenvoudige manier van “EENHEID met God’, “Communion”/gemeenskap met God gekweek in sy jare in die klooster. Hy het gesê: Ons kan klein dingetjies vir God doen! Ek haal die koek uit die oond uit of roer die kos wat ek kook uit/IN liefde vir God. En as daar niks te doen is nie, gaan lê ek op my maag voor die Here en aanbid Hom, omdat dit Hy is wat my die genade gee om te werk en te lewe. As ek daar opstaan is ek gelukkiger as ‘n koning. Dis vir my genoeg om ‘n strooihalm van die grond af op te tel uit/IN liefde vir God! Die priester, Joseph de Beaufort het ‘n klein boekie oor hom geskryf: The Practise of the Presence of God (koop dit gerus aanlyn).
Om heeldag in die teenwoordigheid van God te lewe is die beste wat daar is. Daar is GEEN manier van lewe wat meer aangenaam is en wat meer vreugde en geluk in jou lewe sal bring as die beoefening van die teenwoordigheid van God nie. Ek dink dis presies wat God bedoel met 1 Tessalonisense 5:17. Ek weet as jy dit hoor, dink jy onmiddellik dis nie moontlik nie! Maar hierdie is nie NOG IETS wat ek by jou vol program wil sit nie! Dit wil juis gebed van jou program afhaal en dit by jou lewe inmeng! Ek wil jou vandag leer om so te begin lewe!

STAP 1: KIES vir jou ‘n eenvoudige sin of vers uit die Bybel. Verkieslik nie meer as 6 of 7 woorde nie! Hier is 3 voorbeelde: Lukas 18:3, Psalm 139:3, Psalm 46:10.

STAP 2: HERHAAL die vers of sin elke dag vir die volgende maand. Skryf dit op ‘n papiertjie en plak op jou rekenaar, kar se “dashboard”, jou yskas, spieël in jou kamer. Doen jouself ‘n guns om dit te onthou. Skep ‘n manier om jou elke oomblik daaraan te herinner! Skryf dit op jou hand! Doen enigiets waar jy dit kan sien.

STAP 3: ONTHOU dit! Stel jou selfoon om elke uur te lui om jou te onthou. ONTHOU dit! Dis so eenvoudig! Doen dit so gereeld as wat jy kan! Elke dag! Elke uur, elke ½uur. Leer dit soos ‘n gedig! Dit sal jou brein leer om aan God te dink.

STAP 4: DOEN dit! WEES gewaarsku. Soms, veral aan die begin sal dit voel soos tydmors, maar hou net aan en aan en aan tot jou dood toe ongeag hoe moeilik dit ookal kan wees. Brother Lawrence noem dit “a little remembrance of God”, terwyl jy met jou dagtaak besig is. As jy dit lank genoeg doen en dit ‘n gewoonte in jou lewe maak, sal jy vinnig sien hoe jou hele lewe verander. En les bes: Hoe meer jy gedurig in gebed lewe, hoe meer toevallig sal daar goeie goed in jou lewe gebeur.

Scroll to top