PREEKOPSOMMING – 22 September 2024

  • Tema: Here, leer ons bid
  • Teks: Lukas 11:1-13
  • Teksvers:Lukas 11:1Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”

Ek wil nie hê jy moet vandag net nog interessante feite of kennis oor gebed opdoen nie, my hart is dat jy werklik vandag ‘n dieper begeerte sal hê om meer te bid. Soveel mense het verskillende idees en opinies oor gebed, wat is gebed nou werklik? Is gebed ‘n leefwyse, is gebed die tyd wat ek met God spandeer? Wat is gebed? Ek wil jou uitnooi om ‘n oomblik saam met my na te dink oor hierdie vraag.

Gebed is eintlik een van die grootste wonderwerke en geskenke vir elkeen van ons. En tog volgens verskeie opnames oor gebed wys dit hoe min mense werklik gereeld bid. Ek besef hierdie is die moeilikste tyd in geskiedenis om te bid. Die realiteit is gebed is vir baie van ons soos ‘n bekende teoloog gesê het: “Prayer is just worrying in God’s general direction.” Boonop met al die stimuli rondom ons is gebed eintlik vir sommige van ons vrek vervelig. Daar is soveel dinge wat ons aandag aftrek. Dinge soos: 1) Selfone; 2) Rykdom;  3) Tyd; 4) Tegnologie;  5) Sinisme. Hoe bid ek binne in dit alles wat rondom my aangaan, ten spyte van dit alles. Ons wandelteks vir hierdie week is Lukas 11:1-13, maar net voor dit is die verhaal van Martha en Maria. Martha wat juis so besig was en nie tyd by Jesus deurgebring het nie, en so wil ons wandelteks dalk met ons iets kom deel oor gebed binne in hierdie besig wees, binne in alles wat rondom my gebeur en aangaan. Want die realiteit is George Failing sê: “Moenie dink dat jy God benadeel as jy nie bid nie, jy doen dit aan jouself.”  Dit is belangrik vir ons om te bid. Lees Lukas 11:1, die Dissipels vra vir Jesus ‘n baie belangrike vraag. Hulle wil hê Hy moet hulle iets leer. Dit is die enigste keer in die Bybel waar die Dissipels Jesus vra om hulle iets te leer. So dit is nogal belangrik. Hulle vra nie vir Jesus om hulle te leer wonderwerke doen nie, hulle vra nie vir Jesus om hulle te leer om duiwels uit te dryf nie, hulle vra nie vir Jesus om hulle te leer preek nie. Hulle vra Jesus: ‘Leer ons bid.’ Dit is so amper asof hulle besef die fondasie van al die ander goed eintlik gebed is.

Dit is interessant want dit is nie asof hierdie manne nie geweet het hoe om te bid nie, want hulle sou al van kleins af leer bid het. Hulle sou baie gereeld ook gebid het. Ek dink hulle vra Jesus om hulle te leer bid want hulle gebed was meer ‘n godsdienstige daad as enige iets anders. Ek dink die dissipels het besef dat Matteus 15:8 waar is vir soveel van hulle. Frederick Maurice het gesê: “Dit is baie maklik om die Onse Vader uit jou kop te leer. Om dit met jou hart te leer bid is ‘n ander storie.” Toe die dissipels Jesus sien bid, het hulle besef daar is iets kort in die manier waarop hulle bid, en daarom hierdie belangrike vraag aan Jesus, Here leer ons bid. En voor ons verder gaan, bid dalk vanoggend ‘n oomblik saam met my: Here, leer ons bid.

Nou gebed is eintlik ‘n sambreel term wat soveel diepte bevat, daar is soveel verskillende dele aan gebed en sodra mens dink jy verstaan gebed, soos ek hierdie week ook weer besef het, dan stem ek saam John Ortberg om te sê: “When it comes to prayer we are all beginners.”  Want ja, gebed is ‘n leefstyl, dit is om gereeld in kontak met God te leef, maar tog as ons na Jesus se voorbeeld kyk sien ons gereeld dat Jesus tyd gemaak het om te bid. Lees Lukas 3:21; Lukas 5:16; Lukas 6:12 en Lukas 9:28. Dwarsdeur die Bybel sien ons dat Jesus tyd gemaak het om te bid, op verskillende tye en verskillende plekke. Jesus maak tyd om te bid, om tyd by Sy Vader te spandeer. Selfs al was dit om middernag. Jesus se hele lewe het Hy geleef in bewustheid van God en saam die Here, maar tog maak Hy spesifieke tye om by die Here te spandeer.

Die beste manier waarop ek dit kan verduidelik en hoe ek dit verstaan is soos ‘n ‘date night.’ Ek en Carlien leef saam, ons is elke dag by mekaar, ons doen alles saam en tog is dit belangrik vir ons om een keer ‘n week tyd te maak om ‘n ‘date night’ te hê, waar ons nie dink of praat oor werk nie, waar ons nie selfone by ons het nie, waar ons alles wat ons aandag aftrek eenkant toe skuif en waar ons intensioneel tyd kies saam mekaar om ons liefde vir mekaar sterker te maak. Om weer by mekaar se hart uit te kom. Dit is wat hierdie tyd in gebed by God is, dit is om doelbewus tyd te maak om my liefde vir God sterker te maak. Nie net een keer ‘n week nie, maar om doelbewus elke dag tyd te maak, om tyd by Hom te spandeer, om Hom beter te leer ken. Lees Filippense 3:8 in die Bybel vir Almal, lees ook Filippense 3:10 in die Amplified-Bible. Lees daarna ook Efesiërs 1:17-18 in die Message-Translation.

Ek en jy het nodig om tyd te maak om te bid. Ons bevind ons wel gereeld op ‘n plek waar ons baie keer net bid omrede ons gedwing word om te bid. Ons het in Afrikaans ‘n spreukwoord wat sê: “Nood leer bid” en hoe waar is dit nie. Baie keer is desperaatheid juis die ding wat ons bring tot by gebed. Daar was ‘n hele rukkie terug ‘n artikel met die opskrif: “There is no atheist in war.” Want in nood besef ons dat ons nie op ons eie kan nie. Abraham Lincoln het tydens die burgeroorlog gesê: “I often found myself on my knees out of the simple fact that I had nowhere else to go!” Matteus 5:3 beskryf hierdie plek so goed, lees die Nuwe Lewende-Vertaling asook Message-Translation. Wanneer ons op hierdie plek beland en die Here voorsien, want Hy is ‘n Vader wat omgee en graag ons gebede beantwoord, dink ons steeds en sien ons steeds onsself as iemand wat werklik die Here nodig het, wat nie self kan nie?

Een van die groot redes waarom ek voel gebed belangrik is en waarom ek bid is omrede deur gebed besef ek dat ek self nie kan nie. Dit word so goed vir my uitgebeeld in die gelykenis of eintlik meer die kontras van Jesus in ons wandelteks. Lees Lukas 11:5-8, soos hierdie vriend afhanklik is van sy buurman vir brood so moet ons ook van die Here vir alles in ons lewe afhanklik wees. Ons moet konstant bewus wees van ons afhanklikheid. Wanneer ons werklik ons afhanklikheid van die Here besef sal ons weet dat ons nie sonder die Here kan nie. Owen Carr sê: “Die dag wat ek nie bid nie, is ‘n dag waarop ek by God gespog het oor my eie krag.”

Die vraag is of ons nog werklik daai besef het. Of ons werklik nog leef met die wete van Johannes 15:5. Ons hele lewe lank van baba tyd af leer ons om onafhanklik te wees, en dit hou nooit op nie, maar wat gebeur ons begin so onafhanklik teenoor die Here ook leef. En dan kom ons baie keer op die plek waar die Israeliete hulself bevind het in Hosea 13:6, lees die vers in die Boodskap-Vertaling. Wanneer ons onafhanklik van die Here leef is die grootste ding wat daaronder skade lei ons gebedslewe. Want gebed is ‘n verklaring van my totale afhanklikheid van die Here. Om vir myself te sê en te herinner maar ek kan niks sonder die Here doen nie. Selfs al voel dit of daar nie soveel storms en stryd in my lewe is nie. Gebed sê ten spyte daarvan of dit goed of sleg gaan, ek besef dat ek niks sonder die Here kan doen nie. Jesus self het dit vir ons geleer, deur vir ons te wys hoeveel tyd Hy gereeld in gebed spandeer het, want Hy het geweet Hy kan niks sonder sy Vader doen nie. Ons moet op die plek kom waar ons besef maar ek kan niks sonder die Here doen nie. Lees Psalm 143:6 in die Boodskap-Vertaling.  

‘n Laaste gedagte waarmee ek afsluit. Lees Lukas 11:9-10, hierdie is Jesus se eie woorde, die opdrag om aan te hou bid. Die Nuwe Lewende-Vertaling sê Hy begin deur te sê hou aan vra. Wees soos ‘n kind wat nie ophou om sy ouers te vra vir iets wat hy/sy baie graag wil hê nie. Hou aan soek, om te soek beteken juis om nie iets net maklik te kry nie, so moet nie ophou soek nie en dan sê Jesus hou aan klop, niemand klop net een keer as hulle in nood is nie. Jy klop en klop en klop. Weereens word hierdie idee duidelik vir ons gegee om aan te hou bid, nooit op te hou nie. Om altyd afhanklik van die Here te wees. Hoekom sou Jesus dit ‘n opdrag maak?  Want ek dink Hy het geweet ons is net mens. Ons gaan vergeet om te bid, daar gaan tye van twyfel kom, tye waar dit swaar en moeilik gaan wees om te bid, maar die grootste rede is omrede Hy geweet het, gebed herinner ons net weer ons kan eintlik niks sonder die Here doen nie. HOU AAN BID!

Scroll to top