PREEKOPSOMMING – 25 Augustus 2024
- Tema: Die blindekol van Genade
- Teks: Matteus 20:1-16 [1983]
- Teksvers: Matteus 20:15b [1983] – Is jy afgunstig omdat Ek goed is?
Die gelykenis in Matteus 20 gaan oor GENADE! Die genade in die gelykenis is dat die werkers wat net ‘n uur of wat gewerk het dieselfde loon gekry het as die werkers wat die hele dag gewerk het. Die probleem is: Dit voel nie vir almal soos genade nie. Dié wat lank gewerk het, kla oor hulle dagloon. Vir hulle voel dit soos onregverdigheid. Dis by ons vandag nog presies dieselfde: As genade na jou kant toe kom, is dit wonderlik. As jy bevoordeel word, is dit goed, maar as jy aan die kortste end trek, as jy voel jy word benadeel is dit moeilik om genade te ervaar en te gee.
Ons mense soek reg en geregtigheid. Ons hele wese skreeu vir geregtigheid. Ons is voorwaardelik in ons diepste wesens. Onvoorwaardelike aanvaarding gaan teen ons grein in. Ons wil hê mense moet verdien wat hulle kry en kry wat hulle verdien. Dit maak nie saak hoeveel foute ekself het nie, oordeel en veroordeling is dikwels my eerste reaksies. Dis soos ‘n refleks in my binneste. Voor ek myself kan kry, oordeel en veroordeel ek ander mense. Iemand vertel nog vir my ‘n storie dan hardloop my kop al oordeel toe: Hoe kan iemand so onnosel wees? Ons hele wese soek reg en geregtigheid, ons is nie so lekker tuis met guns en genade nie.
By God is dit presies andersom! By God is GUNS en GENADE sy 2de natuur! Guns en genade is in sy bloed. Hy sien hoe ons foute maak en Hy dink: Hoe kan ek hierdie ou help! Hy sien hoe ons sonde doen, en Hy dink hoe kan ek hierdie ou verlos. GUNS en GENADE is God se forté. Wat is GUNS? LEES Romeine 3:23. Wat is GENADE? LEES Romeine 6:23. Guns én genade is vrek moeilik, maar genade vat die koek. Ek kan dalk nog aanvaar as iemand nie kry wat hy verdien nie, maar ek sukkel regtig om vir iemand iets te gee wat hy of sy nie verdien nie. Dink maar aan die boemelaar by jou deur! Genade is ‘n geskenk. Dit verwag en eis nie iets terug nie. Jy gee nie ‘n geskenk om iets te kry nie. Jy kan dalk nog maklik iemand vergewe vir iets wat hy verkeerd gedoen het, maar om vir iemand iets te gee wat hy nie verdien nie, is in sy wese onregverdig. Dit maak nie sin nie!
MAAR dis juis Jesus se forte! Dis die uitsluitlike rede hoekom Hy gekom het: om die sonde-blok tussen ons en God weg te vat. Genade vier hoogty in Jesus se lewe. Hy erken die aakligheid van sonde, maar kies om verder/dieper as die sonde te kyk. LEES Johannes 3:17 en Romeine 8:1. “Geen veroordeling” beteken JY word nie meer veroordeel nie! MAAR dit beteken ook jy veroordeel self nie meer ander mense nie. As jy INJesus is, geld BEIDE: Jy word nie geoordeel nie en jy oordeel self nie meer nie! Daar is GEEN sprake meer van oordeel in jou lewe nie.
Dis waaroor die gelykenis in Matteus 20:1-16 gaan.
God kom 1000e kere op ‘n dag vir elke mense aanbied: Kom werk in my wingerd, kom leef in my koninkryk (waar God regeer!) waar alles is wat jy nodig het. God kom nooi jou nie uit omdat Hy jou nodig het nie! Hy kom nooi jou uit omdat Hy jou liefhet, omdat Hy vir jou omgee en vir jou wil sorg.
Al die werkers kry dieselfde loon, omdat almal se behoeftes dieselfde is, ongeag van hoeveel hulle gewerk het. Genade KAN NIE GEKOOP of VERDIEN word nie. Ek en jy kry genade omdat God goed is en omdat God ons liefhet. PUNT! OF jy langer gewerk het, of ‘n beter mens is as ander of meer doen in God se koninkryk of in die gemeente as ander SPEEL nie ‘n rol nie. Dis God se genade en Hy gee dit vir wie dit WIL hê en aanvaar. As jy kom, as jy reageer op die uitnodiging, word jy beloon met genade! Dis die dagloon!
Maar wat ons moet verstaan, is genade kom in ‘n pakkie! Dis ‘n pakket! Jy kry ALLES of NIKS. Genade kan nie en word nie in kleiner stukkies verdeel nie. As jy langer “gewerk” het, meer gedoen het, kry jy die volle pakket. As jy net ‘n uur “gewerk”, minder gedoen het, kry jy STEEDS die volle pakket.
LEES Matteus 20:15. In die oorspronklike teks staan: Is thine eye evil, because I am good? ‘n “Evil eye” is iemand wat sy eie idee en maatstaf van wat reg en verkeerd is, indra in God se koninkryk (m.a.w. wat dink God dink soos ons mense dink!). Dit iemand wat nie vir God luister en buig voor God se wil nie, wat nie God se wil aanvaar nie en nie wil doen wat God sê nie. Ek vermoed God vra dieselfde vraag vandag vir my en jou: Is jy jaloers omdat God goed is vir ander mense?
LEES Lukas 6:36-37. “Barmhartig” beteken om regtig om te gee, om genadig te wees met ander mense, om deernis (d.i. compassion) te hê met ander mense. The Message sê: Be easy on people. LEES Lukas 6:37.
HOEKOM SUKKEL ONS OM GENADE TE GEE VIR ANDER MENSE?
1. Ons gee nie genade nie, want ander mense se foute laat ons beter voel oor onsself. Terry Cooper het gesê: We need other people’s faults in order to dodge our own. Het jou man/vrou al ooit vir jou gesê jy is te veel op jou selfoon en dan dink jy: Wow, jy is een om te praat … jy is baie meer op jou selfoon as ek. Dis ‘n blindekol wat jy dalk moet raaksien. LEES Lukas 6:41-42. Jy hoef nie jouself beter te laat voel oor jouself nie. Baie kere in ons lewens word ons deur ons foute of omstandighede of eie besluite op die grond neergegooi, opgefrommel, in die grond rondgeskuur, selfs geskeur. Ons mag soms voel ons is waardeloos, ons beteken nie vir iemand meer iets nie, maar dit maak nie saak wat met jou gebeur nie of wat mense aan jou doen nie. Jy verloor NOOIT OOIT jou waarde by God as jy gekies het om sy genade te aanvaar nie. Hou op om ander af te trek of af te breek om jouself ‘n hupstoot te probeer gee/te “boost”. Dis nie nodig nie! AANVAAR net God se genade vir jou.
2. Ons gee nie genade nie, omdat ons voorwaardes koppel aan genade. LEES Efesiërs 2:8&9. Genade het GEEN voorwaardes nie – genade word ontvang nie verdien nie. Daar is niks wat jy kan doen om dit by God te kry nie, BEHALWE om dit te VAT by Hom. Jy kry dit verniet! GEE dit vir ander ook verniet. God se genade hang nie af van wat JY doen nie, maar van wat GOD VIR JOU gedoen het.
Albert Einstein het gesê hy het geleer nuuskierigheid het sy eie lewe baie makliker gemaak en sy verhoudings bevoordeel. Bykans elke oordeel wat ons oor ander mense maak, kom uit onvolledige inligting. Ons maak afleidings uit die manier waarop hulle optree en dink en sê goed oor hulle, sonder dat ons regtig weet wat in hulle lewens aangaan. Nuuskierigheid kan die pad na genade vir jou oopmaak. As iemand lelik is met jou, in plaas van om te oordeel en veroordeel, sê vir jouself: Ek wonder wat gaan aan in hierdie persoon se lewe wat hom/haar so laat optree. In plaas daarvan dat jy gal afgaan en sommer lelike goed terug sê, vra eers vir jouself: Ek wonder wat weet ek NIE? Hoe nuuskieriger jy is, hoe meer sal genade in jou verhoudings insypel en hoe meer sal jy soos Jesus kan liefhê.
Iemand het eenkeer Spreuke 11:27 so geparafraseer: Anyone can find dirt in someone. Be the one who finds the gold.
ONTHOU ook Lukas 6:37 in The Message Translation: Be easy on people; You’ll find life a lot easier.
Mag jy die blindekolle van genade ontdek, sodat jy makliker met ander mense sal kan saamleef.