PREEKOPSOMMING – 8 September 2024
- Tema: My bekommernisse
- Teks: 2 Konings 19:14-19
- Teksvers: 2 Konings 19:14 [2020] – “Nadat Hiskia die briewe uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here. Hiskia het dit daar voor die Here oopgesprei.”
Die boodskap wat ons oral op TV, sosiale media, en by 90% ander mense kry is dat ons bekommerd moet wees. Ons leef in ‘n kultuur waar bekommernis ‘n algemeen aanvaarde deel van die lewe is. Alles rondom ons is net een groot rede tot kommer. Ek het onlangs gelees dat bekommernis veroorsaak wat mens noem ‘anticipatory anxiety’, dit is daai ‘sê-nou-maar’ en ‘hoe-sal-ek’ tipe manier van leef, dink en glo. Ons raak so bekommerd oor goed wat in die toekoms DALK, NET MISKIEN kan gebeur. Juis daarom kom Jesus met ‘n baie belangrike en reguit opdrag in Matteus 6:25, lees die Nuwe Lewende-Vertaling. As jy die res van die gedeelte gaan lees sal jy agterkom die Here is baie duidelik daaroor dat ons nie bekommerd moet wees oor die toekoms nie. Dat ons nie heeltyd moet vas kyk in die wat as en sê nou maar nie! Hou op om jou te bekommer!
Ek wil graag twee gevolge met jou deel wat bekommernis in ons lewe veroorsaak. 1) As ons nie ons bekommernisse vir die Here gee nie word dit vrese in ons lewe. Bekommernis word ‘n dun stroom van vrees wat deur ons gedagtes vloei. Kort voor lank leef ons in konstante vrees. Die vrees raak dan normaal en roetine. Joyce Meyer sê: “Don’t let fear stay so long that it begins to seem normal or acceptable in your life.” Vrees kan ‘n onbeskryflike invloed op my en jou lewe hê. Vrees beïnvloed elke dimensie van my en jou lewe, ons besluite, ons drome, ons hoop. Lees 1 Johannes 4:18 in die 2020-Vertaling. Straf beteken om jou te ontneem van iets. Dink aan jou kinders as julle hulle straf. Dit is wat vrees doen, dit ontneem ons van hoop, van verwagting, en selfs van my verhouding met die Here.
Lees 1 Petrus 5:7, die vers help ons om te weet hoe om ontslae te raak van bekommernis, want dit word vrees. Maar lees ook nou 1 Petrus 5:8. Bekommernisse en vrees is wat die vyand soveel keer in ons lewe gebruik om ons nog verder van die Here af te dryf. Vrees is een van die maniere waarmee hy steel en vernietig, deur ons te laat glo ons is alleen en dat dinge nie gaan beter word nie. Die vyand laat ons vrees deur juis meer en meer vir ons te sê, maar wat as…. JY sal moet plan maak, want sê nou maar…. Vrees veroorsaak dat ons vergeet dat die Here by ons is en daarom probeer ons alles self doen. Tog sê die Here oor en oor in die Woord vir ons Moenie bang wees nie WANT Ek is met jou. Lees wat skryf Dawid in Psalm 118:6, lees die Nuwe Lewende-Vertaling. Ons oorwin nie vrees en die vyand uit onsself nie, maar deur nader aan die Here te beweeg. Ons oorwin vrees en die vyand in ons lewe deur onsself te herinner ek is nooit alleen nie. Die Here is altyd by my en Hy gee om vir my, Hy pas my op, Hy beskerm my, Hy voorsien vir my. Hy is altyd daar vir my. Lees Matteus 10:31 in die Passion-Translation.
2) Die realiteit is ons verstaan nie altyd waarom hierdie goed met ons gebeur nie, dit is presies wat Prediker 3:11 sê. Ons moet verstaan dat ons nie gaan verstaan waarom alles gebeur nie, maar dat ons moet vashou aan die belofte en die wete dat God by ons is. Peace and hope are never to be found in your efforts to figure out the future, it is only found in God. Al verstaan ek nie wat gebeur of hoekom dit gebeur nie, al wat ek moet verstaan is dat in dit ek aan die Here moet vashou. Lees Psalm 145:20 in die Message-Translation. In 1939 het koning George VI van Engeland ‘n kort radio-toespraak aan sy onrustige nasie gelewer. Engeland was reeds in oorlog met Duitsland. Hy het ‘n gedig deur Louise Haskins, “The Gate of Year” aan gehaal.
Die gedig sê: “Ek het vir die man wat by die poort van die jaar gestaan het gesê: ‘Gee my ‘n lig, dat ek veilig in die onbekende kan loop!’ En hy het geantwoord: ‘Gaan uit in die duisternis en steek jou hand in die Hand van God. Dit sal vir jou beter wees as lig en veiliger as ‘n bekende weg.” Lees Psalm 112:7-8 in die Passion-Translation.
Dallas Willard sê: God is totally good and competant, and He is right here with us to look after us. Ons hoef nie bekommerd te wees nie want die Here is by ons, en al leer Spreuke 27:1 ons dat ons nie weet wat in die toekoms gaan gebeur nie, kan ons vashou aan die Here. Juis daarom hoef ons nie bekommerd te wees nie. Lees weer Matteus 6:25 in die Nuwe Lewende-Vertaling. Die Griekse woord vir lewe is nie soos ons dink daaraan ons fisiese lewe nie. Die Griekse woord vir lewe is eintlik ons siel. Daarom skryf Hy jou siel, jou dieper lewe is tog belangriker as kos en klere. Ons is soveel keer bekommerd oor ons fisiese liggaam dat ons nie besef die skade wat bekommernis aan ons siel veroorsaak nie. Die teksgedeelte sê vir ons dat ons siel vir die Here belangrik is en daarom moet ons nie bekommerd wees nie, want bekommernis affekteer ons siel, ons gees.
Die Griekse woord vir bekommer is die woord ‘merimnao’, en bestaan uit ‘n samestelling van twee Griekse woorde: ‘merizo’ wat beteken om te verdeel en ‘nous’ wat verstand beteken. So die Griekse woord vir bekommer beteken letterlik om jou gedagtes te verdeel. Dieselfde woord word gebruik in Lukas 10 in die verhaal van Marta en Maria. Lees Lukas 10:41-42, Marta bevind haarself op ‘n plek waar sy rondhardloop en konstant bekommerd is. Waar haar gedagtes verdeeld is, en glad nie by Jesus is nie. Dit is ook asof Jesus eintlik bekommernis oor die algemeen aanspreek in vers 42. Net een ding is nodig vir wanneer jy bekommerd is en dit is Jesus. Daardie bekende uitnodiging. Kom na MY toe. Baie keer as ons in situasies is waaroor ons bekommerd is, wanneer goed gebeur wat ons nie verstaan nie, dan kan ons nie help om te wonder oor wat is God se wil hiermee nie. Stephan Joubert sê God se wil is God self. Dit is om by Hom te wees. Louie Giglio sê: Die manier om los te kom van bekommernis en vrees is nie in ‘n plan nie, maar in ‘n Persoon! WOW!
Hoe maak ek dan wanneer ek bekommerd is? Gaan na die Persoon toe. Lees Filippense 4:6 in die Nuwe Lewende-Vertaling. Dit is presies wat Koning Hiskia in ons wandelteks ook gedoen het. Net voor ons dit saam lees wil ek net vir jou bietjie konteks gee, en jou regtig uitnooi om die res van die gedeelte ook te lees. Die Israeliete het in twee verdeel, Israel en Juda. Hiskia was aangestel as die koning van Juda, en in daardie tyd was die koning van Assirië baie magtig, hy het duisende lande reeds verower, Israel was onder andere een van daardie lande. Die koning van Assirië het toe vir koning Hiskia ‘n brief gestuur wat God beledig en sê dat hy kom vir Juda en dat hy hulle gaan kom dood maak. Ons tel die verhaal op in 2 Konings 19:14-15 & 19, lees die gedeelte in die 2020-Vertaling. Sien jy wat is die eerste ding wat hierdie koning doen toe hy hierdie brief kry, hy sprei dit voor die Here uit en bid tot die Here, om die Here se hulp te vra. Gebed is nie die iets wat ons moet doen as ons uit opsies uithardloop nie, gebed moet ons eerste opsie wees. Chris Hodges stel dit goed hy sê: “It’s not all’s well that ends well,’ It is all’s well that begins well.” Ons moet onsself leer dat wanneer ons bekommerd raak oor iets dat ons heel eerste dadelik daarmee na die Here toe gaan. Gebed is makliker as wat jy dink en belangriker as wat jy besef. Wanneer ek met my bekommernis na die Here toe gaan erken ek dat ek nie self kan nie en dat ek die Here nodig het. Dat ek Hom vertrou met alles in my lewe. Lees Jesaja 41:8 &10 in die Boodskap-Vertaling. Wanneer ons onsself kry besig om te worry en te kla kan ons maak soos Dawid sê in Psalm 42:6.
Nou kom ons lees verder wat sê Filippense 4:6-7, lees die Boodskap-Vertaling. Die Woord sê duidelik vir ons dat ons soos Koning Hiskia ons behoeftes voor God moet bring en moet bid daaroor en wanneer ons dit doen sal ons hierdie onbeskryflike vrede ontvang by die Here. Lees 2 Tessalonisense 3:16, lees die Passion-Translation. Ons het vir mekaar gesê die Griekse woord vir bekommer beteken om ons gedagtes te verdeel. Dat ons gedagtes nie meer by God is nie. Nou die woord vrede in hierdie gedeeltes is die Griekse woord ‘Erene’ en die woord beteken ‘to join’, hoor jy dit, bekommernis verdeel mens se hart en gedagtes en vrede bring dit weer bymekaar. Vrede beteken ook ‘set at one again’, om weer een te word met die Here. Dit is die belofte van die Here vanoggend ook aan jou as jy bereid is om jou bekommernis voor die Here neer te lê en tot Hom bid. Hy sal vir jou vrede gee. Jy sal weer verenig word met Hom. Lees ter afsluiting Johannes 14:27 in die Boodskap-Vertaling.