PREEKOPSOMMING – 18 AUGUSTUS 2024

PREEKOPSOMMING – 18 Augustus 2024

  • Tema: Die blindekolle van Vergifnis (2)
  • Teks: Matteus 6:9-15
  • Teksvers: Matteus 9:12 – “en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;”

Die vraag wat hierdie week in my gedagtes was is: “Maar wat as dit vir my voel of ek nie kan vergewe nie.” Ons het al soveel preke gehoor oor vergifnis, selfs die getuienis van Yulandi, maar dit voel net vir my asof ek nie op daai punt kom om te vergewe nie. Lees wat leer Jesus ons oor vergifnis en hoe om te bid in Matteus 6:9-15.

Hoekom moet ons mense vergewe? In ons wandelteks vra die dissipels vir Jesus hoe mens moet bid, en oor alles wat Jesus hulle kon leer oor gebed, maak Hy vergifnis die sentrale boodskap. Die Here gee vir ons die opdrag om te vergewe. Die feit dat dit ‘n opdrag van God is moet vir ons genoeg rede wees om te vergewe. Die tweede belangrike rede is omrede die Woord ons leer dat onvergewensgesindheid ‘n deur oopmaak vir die vyand. Net nadat Jesus van die belangrikheid van vergifnis praat in Sy gebed, lees wat sê Hy in Matteus 6:13. Om nie te vergewe nie maak ‘n deur oop vir die duiwel. Lees ook Efesiërs 4:26-27. Die ding is al weet ons hierdie goed, die vraag bly steeds waarom kry ek nie myself om te vergewe nie.

Ek wil vandag met jou twee goed deel uit hierdie bekende gebed in Matteus 6 waarom ek dink ons sukkel om mense te vergewe. Die eerste rede is iets wat Yulandi gesê het in haar storie en dit is dat mens nie vergewe nie omrede onvergewensgesindheid vir ons gemaklik is. Dit is soveel geriefliker en makliker om ‘n wrok te koester, sy gebruik die beeld van om in ‘n donker kamer te wees en al is alles rondom jou hoe donker, jy raak gemaklik daarmee om hier te wees. Dit is maklik om in jou kop te oefen oor hoe jy hierdie persoon sal wil terugkry of hoe jy wens die persoon kry wat jy dink hulle verdien. Haat, bitterheid en onvergewensgesindheid is soveel makliker en gemakliker. Ons lewe in ‘n wêreld vol seer en ons gaan seer gemaak word deur mense. Die realiteit is die kanse is baie goed dat jy al mense seer gemaak het en dalk nog in die toekoms weer gaan te na kom en seer maak. Niemand is 100% gewaarborg teen seer nie, en ook nie om iemand anders seer te maak nie. Lees wat leer Jesus ons in Lukas 17:1, lees dit in die 1983-Vertaling as ook die Passion-Translation. Seer is natuurlik, dit gaan gebeur, maar vergifnis is bo natuurlik, dit gebeur nie van self nie.

Ek is sensitief vandag wanneer ek met jou praat oor vergifnis want wanneer ons die woord vergifnis hoor koppel ons dit aan die grootste seer wat ons dalk al ooit ervaar het. Seer wat jou kêrel, jou man of vrou, jou beste vriend, jou pa of ma, of dalk ‘n familielid veroorsaak het. En as iemand dit nog nooit vir jou gesê het nie, wil ek vandag vir jou sê ek is jammer.

Ek is jammer vir wat die persoon aan jou gedoen het, ek is jammer oor wat die persoon vir jou gesê het, ek is jammer oor wat die persoon dalk nie gesê het nie. Ek is jammer vir die seer waarmee jy vir so lank al rondloop. Ek wil vandag vir jou sê jy verdien dit om op te hou met die seer lewe wat iemand anders veroorsaak het. Vergifnis is ‘n keuse en jy moet vandag sê ek kies om te vergewe, ek kies om nie meer met hierdie seer te lewe nie. Die realiteit is ons seer is vir soveel van ons, so vreemd soos dit mag klink, ‘n gemaksone, ek raak gemaklik in my seer. Daarom het Yulandi met ons gedeel in haar definisie oor vergifnis dit is soos om uit hierdie donker kamer uit te kom in die Lig in. Om te kies om nie meer in die gemaklikheid van my seer te bly sit nie. Nelson Mandela het gesê: “When a deep injury is done to us, we never heal until we forgive.” As ons nie vergewe nie, sal ons aanhou om met hierdie seer te lewe.

In Matteus 6 wanneer Jesus ons leer hoe om te bid gebruik Hy ‘n baie interessante Griekse woord in vers 12, lees die 2020-Vertaling. Die Griekse woord vir vergewe is die woord aphiēmi en die woord beteken om vry te laat of te laat gaan. Ek hou van die complete word study se definisie wat sê: To let go from one’s further notice, care, attendance, occupancy. Vergifnis beteken om daardie deur oop te maak om vry te kom. Vry van die haat, bitterheid en seer. Lees nou ook Lukas 17:3-5. Ek dink soveel van ons moet dieselfde bid vanoggend om te sê, maar Here ek het meer geloof nodig, want hierdie ding is nie maklik nie. Dit is nie maklik om iemand te vergewe wat jou seermaak en dan as jy hulle vergewe doen hulle dit weer en moet jy weer vergewe nie. Daarom bid ek ook gereeld, Here gee my meer geloof, want ek wil nie meer seer lewe nie. Here gee my meer geloof.

Die tweede rede waarom ons nie vergewe nie is omrede ons voel vergifnis is nie regverdig nie, regverdigheid sê hulle moet kry wat hulle verdien, en ek wil regverdigheid hê. Maar dit is vir ons lekker dat God nie regverdig is teenoor ons nie, want Hy gee nie vir my wat ek werklik verdien nie. Lees Psalm 103:10-11, dit is vir my wonderlik dat die Here so genadig teenoor my is, maar wanneer ek moet vergewe dan werk dit nie so nie, dan soek ek regverdigheid. Die aanhaling van Andy Stanley sê: In the shadow of my hurt, forgiveness feels like a decision to reward my enemy. But in the shadow of the cross, forgiveness is merely a gift from one undeserving soul to another. C.S. Lewis het gesê: “To be a Christian means to forgive the inexcusable, because God has forgiven the inexcusable in you.” Dit is hoekom en hoe ons moet vergewe. Lees Matteus 6:14 asook Kolossense 3:13 in die Message-Translation en die Boodskap-Vertaling. Lees dan ook Efesiërs 4:32.

Ek dink die rede waarom ons so sukkel om mense te vergewe is omrede ons nog nie werklik die vergifnis wat God vir my het ontvang het nie. Ek het nog nie die keuse gemaak om God se vergifnis werklik my eie te maak nie. Ek sukkel om ander te vergewe want ek self voel nie werklik vergewe nie. As jy werklik besef wat God vir jou gedoen het en steeds elke dag doen, dan kan mens nie anders as om ander ook te vergewe nie. Wanneer jy besef hoeveel keer en waarvoor die Here jou elke dag vergewe sal jy besef dat niks te groot is om nie ook jou vergifnis te verdien nie. Hoe lyk God se vergifnis? Lees die volgende verse en wanneer ek dit lees vra jouself beleef ek hierdie vergifnis so in my eie lewe. Lees Psalm 32:3-5 in die Passion-Translation; Psalm 86:5 in die 1983-Vertaling as ook in die Passion-Translation en Psalm 51:3 in die Message-Translation.

Vir een of ander rede het ons hierdie idee dat ons op ons tande moet byt en vergifnis moet iewers hier binne ons ontstaan. Maar as ons Kolossense 3 en Efesiërs 4 mooi lees sal ons agterkom dat vergifnis eintlik net deur ons vloei na ander mense toe. Ek dink die beste voorbeeld is soos wanneer ek die tuin by die huis natmaak. Ek laat nie water skielik verskyn nie, ek laat net die water deur die pyp vloei. Soms wanneer ek die tuin natmaak gebeur dit dat die water skielik ophou vloei, en dan as ek kyk het die tuinslang gebuig iewers en dit keer dat die water nie uitkom waar ek wil hê dit moet uitkom nie, en hoe harder ek probeer trek aan die pyp hoe meer buig die pyp. Dan moet ek eers stop waarmee ek besig is en aandag gee aan dit wat die oorsaak is dat die water nie vloei nie. Die beeld is presies hoe vergifnis werk. Ek moet net toelaat dat God se vergifnis deur my vloei na ander mense toe, en wanneer dit voel of ek nie kan vergewe nie, moet ek dalk net bietjie aandag gee aan dit wat die vloei blokkeer. Weer kyk na my eie lewe, lees Klaagliedere 3:40. Ek moet vir ‘n slag net weer kyk is daar dalk iewers iets wat veroorsaak dat ek nie God se vergifnis ervaar nie, dalk moet ek weer na my lewe kyk en net weer besef waarvoor God my al alles vergewe het. John Ortberg sê: “The linkage between feeling forgiven and the power to forgive is the key to everything else in our life!”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *