PREEKOPSOMMING – 23 Junie 2024

PREEKOPSOMMING – 23 Junie 2024

  • Tema: Kelners by ‘n troue 
  • Teks: Johannes 2:1-12
  • Teksvers: Johannes 2:11 – “Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk,”

Begin deur ons wandelteks te lees: Johannes 2:1-12. Ons lees in Johannes 2:11 dat hierdie Jesus se eerste wonderwerk was. Eerstes in die Bybel was nogal belangrik. Hierdie eerste wonderwerk sou die fondasie skep vir Jesus se hele bediening vorentoe. Wel, ‘n tekort aan wyn is nou nie iets wat regtig wonderwerk materiaal was nie. Boonop lees ons die wonderwerk gebeur in Kana, ‘n baie onbelangrike, klein, eenvoudige ou dorpie. Dit wys net weer vir ons iets van die Here wat ons dien. Ons sê maklik niks is te groot vir die Here nie, Hy kan die onmoontlike doen, maar die teenoorgestelde is ook waar. Lees Matteus 10:29, niks is te klein of onbelangrik vir die Here nie. Lees 1 Petrus 5:7, ons kan enige iets, groot of klein met die Here deel.

Johannes noem hierdie gebeurtenis in Johannes 2 nie ‘n wonderwerk nie, hy noem dit ‘n wonderteken (v11). ‘n Teken is natuurlik iets wat vir jou ‘n boodskap wil gee, iets wil aandui. Die Griekse woord vir wonderteken kan ook vertaal word met ‘n merk, ‘n simbool. Die woord wonderteken kan ook vertaal word met die vingerafdruk van God. Baie van julle weet dat wanneer daar ‘n misdaad was kan mens deur jou vingerafdruk sien of jy op die toneel was. Hierdie verhaal wat Johannes vir ons vertel is ‘n vingerafdruk van God. Hy wil vir ons vertel en wys dat God hier hier teenwoordig is. Hierdie verhaal is eintlik ‘n simbool van iets meer en groter.

Waarvan is hierdie gedeelte dan ‘n teken? Eerstens, net kortliks, ons lees op verskillende plekke in die Bybel daarvan dat ons Christus se bruid is, so die troue is ook ‘n beeld van as Jesus weer kom vir Sy bruid. Ons dink baie keer dit is net Openbaring wat hiervan praat, maar daar is ‘n boek in die Ou-Testament wat ook nogal baie hiervan sê – Jesaja. Lees wat skryf hy in Jesaja 25:6. (Gaan lees asb. die res van die hoofstuk).

Tweedens, wil ek jou uitnooi om weer Johannes 2:6-7 te lees, lees dit in die Nuwe Lewende-Vertaling. Hierdie klipkanne was gebruik vir Rituele reiniging. Jy moet verstaan as deel van die wet moes die Jode bv. hulle voete was voor hulle aan tafel mag sit. Hulle moes hulle hande was ens. Jesus vat die klipkanne wat gebruik was vir die wet en Hy verander daardie water in wyn. Die wyn aan die anderkant was ‘n teken van Jesus se bloed. Lees Matteus 26:28, Jesus kies om hierdie kanne wat vir reiniging volgens die wet gebruik was se water in wyn te verander. Jesus wil daardeur vir ons kom sê dat deur Sy bloed verander Hy die wet in genade. Dit is presies wat Romeine 6:14 sê, lees die vers in die Nuwe Lewende-Vertaling. Jesus kom red ons van die wette en rituele wat mense gemaak het en bring vir ons genade, vryheid en vreugde. Lees Johannes 1:17.

Johannes vertel vir ons in Johannes 2:6 dat daar tussen 540 en 600 liter water in hierdie 6 kanne was. Wat eerstens vir ons wys hoe veeleisend die wet was, hoe baie mense hulself moes probeer reinig. Ons lees dan in Johannes 2:7 dat die kelners hierdie kanne tot bo toe vol gemaak het en dat Jesus hierdie water in wyn verander het. Dit wys aan die ander kant vir ons dat die genade van die Here, Sy vergifnis, oorvloedig is. Dit is juis wat Johannes 1:16 sê. Verder vertel Johannes in Johannes 2 dat hierdie wyn beter is as die vorige wyn wat bedien is, Jesus wil vir ons sê Sy genade is soveel beter as die ou verbond, die wet.

Waarom wou Jesus deur hierdie eerste wonderteken juis hierdie boodskap met ons kom deel? Ek dink die antwoord is in Johannes 2. Dit mag eenvoudig klink asof Jesus op hierdie troue water in wyn verander het, dit mag soos iets nutteloos lyk, maar jy moet verstaan dit was baie anders in die Bybelse tyd. Troues was nie net ‘n dag gebeurtenis nie, troues in die Bybelse tyd kon tot 7dae lank duur. Dit was die bruidegom se verantwoordelikheid om te sorg dat daar genoeg kos en wyn was vir ‘n troue. Genoeg vir die volle 7 dae. Sou die bruidegom dit nie kon doen nie, sou hy vir jare met soveel skuldgevoelens rondloop omrede hy nie kon voorsien nie. Nog meer hy sou skande en skaamte oor sy gesin bring. Mense sou voel dat hierdie man nie vir sy vrou en toekomstige gesin sou kon sorg nie want hy kan nie eers vir sy troue voorsien nie. Dit sou vir jare en jare groot skande oor hulle bring. Dit is soms moeilik vir ons om te verstaan omrede ons nie regtig so groot geword het nie en dit nie deel van ons kultuur is nie, maar jy kry wat mens noem: “Shame cultures.” Ek glo baie van julle het al te doen gehad met kulture wat glo dat jy skaamte oor jou familie kan bring deur sekere optredes ens. Net so was dit met hierdie paartjie. Jesus verander nie net water in wyn nie, hy red hierdie paartjie van ‘shame’, van skande en skaamte wat hulle vir jare en jare sou moes deurmaak.

Hier is nog iets wat jy moet besef: God se plan met die 10 gebooie was om mense nader aan Hom te bring deur mense te wys hoe om heilig te leef, wat vandag steeds belangrik is, maar toe gaan mense en maak honderde belaglike wette hiervan, soos baie mense vandag nog van die Woord maak. Dit veroorsaak dat die wet mense net skuldig laat voel omrede hulle nie volgens die wet kon leef nie en dit veroorsaak dat hulle eintlik net verder van God af beweeg en nog dieper in sonde verval het. God skep Adam en Eva in die tuin en deel van Sy skeppingsplan was Genesis 2:25. Daar was geen skaamte nie, nie net oor hulle naaktheid nie, maar God wou nooit hê mense moes voel hulle hoof vir God skaam te wees nie. Ons weet natuurlik met die sondeval is dit wat gebeur het. Ons lees in Genesis 3 Adam kruip vir God weg, nie net oor sy naaktheid nie, maar oor sy skaamte van sy sonde. Die sondeval veroorsaak skuldgevoelens en skaamte by mense. 

Die ding wat gebeur is dat wanneer ons sonde doen en kortkom dan voel ons skuldig daaroor, wat normaal is, maar dan gebeur iets baie interessant, ons skuld verander in skaamte. Ons beweeg ons weg van die daad wat verkeerd was, en dit wat ons gedoen het word ons identiteit. Ons beweeg van ek het iets verkeerd gedoen na ek is ‘n slegte mens, ek is nie goed genoeg nie. Ek verdien nie liefde nie, ek verdien nie God se genade nie. Ons voel nie net meer skuldig oor my sonde nie, ek begin skaam raak oor wie ek is. Ons begin word wat ons verkeerd gedoen het. Berne Brown sê die volgende oor skaamte of ‘shame’: Skaamte is die intens pynlike gevoel of ervaring om te glo dat ons vol foute is en daarom onwaardig is om lief te hê en te behoort.” Hoe kon God my ooit liefhê? “Die iets wat ons ervaar het, gedoen het of versuim het om te doen, laat ons onwaardig voel om enige konneksie te hê.” Die vyand is gek daaroor om hierdie skaamte te gebruik in ons lewe en wil ons gereeld herinner aan ons foute en tekortkominge. Hy vat ons op ‘n trip, ‘n ‘guilt trip’ en ons klim al te gewillig op.

Dit is wat met die wet gebeur, ons voel ons kan nie die wet onderhou nie, wette wat ons ook baie keer vir onsself maak, nie net dinge in die Woord nie, dan voel ons later net eenvoudig dat ons nie goed genoeg is vir die Here nie. Lees wat skryf Paulus in Romeine 8:15, lees die Passion-Translation. Hierdie denkwyse van ek is nie goed genoeg nie het tot gevolg dat ons presies doen wat Adam gedoen het, ons skaamte veroorsaak dat ons wegkruip vir God en ander mense, ons skaamte veroorsaak dat ons Jesus op ‘n afstand hou. Luister gerus na Casting Crowns se lied: Jesus at a distance.

Nog ‘n simbool in hierdie wonderteken van Jesus is dat daar 6 klipkanne was. Die getal 6 in die Bybel is ‘n teken van menslike inspanning, menslike tekortkoming en menslike swakheid. Hoe meer ons uit ons eie menslike krag probeer hoe meer sal ons tekort kom. Juis daarom het ons Jesus se genade nodig. Ons het Jesus nodig. Lees 2 Timoteus 1:9 in die Nuwe Lewende-Vertaling. Lees daarna ook Hebreërs 12:2 in die 1953-Vertaling. Die Griekse woord vir skande beteken to feel shame, to be ashamed. En die woord verag beteken in Grieks om te vernietig, maar dit beteken ook om uit jou gedagtes te verwyder. Ons het Jesus nodig om ontslae te raak van ons skuld en skaamte, dat Hy dit deur Sy genade wat ons ons eie maak alle skaamte uit ons gedagtes verwyder.

Beteken dit dat ons nou perfek gaan lewe…? Nee natuurlik nie, ons is gebroke mense, en dit sal altyd so wees a.g.v. die sondeval en ons sondige natuur. Lees wat skryf Paulus in Romeine 3:23. Daar is wel ‘n groot verskil wanneer ons ‘n ontmoeting met Jesus het. Ons is nie meer skaam oor ons sonde nie, want dit definieer ons nie meer nie, dit is nie ons identiteit nie. Dit word soos Paulus skryf in 2 Korintiërs 12 juis die krag in ons lewe. En Paulus sê dit nie net nie, maar hy leef dit. Hy het op soveel verskillende geleenthede vir mense vertel van sy gebrokenheid en tekortkominge. Lees Galasiërs 1:13-15 in die Boodskap-Vertaling, lees ook Romeine 7:14-15 en 1 Timoteus 1:12-15 in die Message-Translation asook die Nuwe Lewende-Vertaling. Paulus het besef dat Jesus se genade meer as genoeg is. Jesus bring vir ons genade, om nie meer met skuld en skaamte onder die wet te staan nie, maar om vry te leef daarvan.

Hy doen dit vir een groot rede. Ons lees van daardie rede in Romeine 7:4, lees die gedeelte in die Boodskap asook die 2020-Vertaling. Lees daarna ook 2 Korintiërs 4:5-6 in die Message-Translation en Romeine 6:13 in die Passion-Translation. Jesus roep die kelners om hierdie kanne vol water te maak, hy kon die kanne net van die begin af vol wyn maak, maar nee, hy roep mense om diensbaar te wees. Daarna sê hy vir hulle om die wyn uit te deel. Om genade te deel. Het jy al gedink waarom gaan jy nie dadelik Hemel toe as jy die Here aanneem nie? Want Hy roep jou om met mense Sy genade te deel. Ja, ons maak baie foute, ons gaan nog baie foute maak, maar in plaas daarvan om skaam te voel en my foute weg te steek vir God en mense, laat ek toe dat die Here my foute en my gebrokenheid gebruik om mense nader aan Hom te trek, om deel te hê aan Sy genade boodskap. Ons deel met mense die genade wat ons keer op keer by die Here kry!

 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *